Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARLNUUS SONDAG 8 JUNIE 2008

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Om na oudio via die web, of d.m.v. Echolink deur ZS6FCS te luister, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui.

Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

HET U ’N VRAAG OOR AMATEURRADIO - VRA DIE SARL ELMER

SARL GAAN OPENBARE VERHOOR OOR KLT BYWOON

SARL JEUGNAELLOOP 16 JUNIE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

HET U ’N VRAAG OOR AMATEURRADIO - VRA DIE SARL ELMER

Die SARL Elmer is terug in die persoon van Fred Scheepers, ZS1FCS. As u ’n vraag het oor amateurradio, of dit nou oor regulatories, DX-werk of tegnies is, stuur dit aan elmer@sarl.org.za. Fred sal die nodige navorsing doen om jou die regte antwoord te kry.

Dalk wonder u waar die term “Elmer” vandaan kom? “Elmer” was die eerte keer gebruik om iemand wat persoonlike leiding en bystand verleen aan voornemende amateurs te beskryf in die rubriek “How’s DX” deur Rod Newkirk, W9BRD, in die Maart 1971 uitgawe van die QST tydskrif. Newkirk het hulle "the unsung fathers of Amateur Radio" genoem. Alhowel hy sekerlik nie ‘n nuwe term wou “uitvind” nie, het hy “Elmer” so in sy rubriek aan die amateurradiowereld voorgestel:
“Too frequently one hears a sad story in this little nutshell: 'Oh, I almost got a ticket, too, but Elmer, W9XYZ, moved away and I kind of lost interest”.

Soos u kan sien is die term nie baie oud nie. Voordat die term in omloop gekom het, wat was die mense wat ons gelei en bemoedig het genoem? Onderwyser, mentor, studieleier, gids, of net helper?

SARL GAAN OPENBARE VERHOOR OOR KLT BYWOON

OKOSA het kennis gegee dat hulle ’n openbare verhoor gaan hou oor die voorgestelde regulasies aangaande tegniese standaarde vir kraglyntelekomunikasie wat op 7 Februarie 2008 gepubliseer is. Die verhoor sal op 18 en 19 Junie 2008 gehou word. Beide die SARL en HAMNET sal op die eerste dag teenwoordig wees.

Na die publikasie van die voorgestelde regulasies in die Staastkoerant het die SARL en HAMNET beswaar aangeteken teen sekere aspekte van die voorgestelde regulasies. Die hoofbesware is die afwesigheid van verpligte uitkeping van die amateurfrekwensies, limiete wat te laag is vir voldoende beskerming en die dispuutoplossingsproses. Die voorgestelde regulasies sowel as die SARL en HAMNET se besware is op www.sarl.org.za beskikbaar, klik op PLC/BPL.

SARL-JEUGNAELLOOP 16 JUNIE

Het u reelings getref om jongmense in u area te laat deelneem aan die SARL-jeugnaelloop? U kan die besonderhede op www.sarl.org.za kry, klik op “activities” en kies dan “youth activity”. Volledige besonderhede en ’n bedryfsriglyn is op die web geplaas. Elke deelnemer onder 25 sal ’n sertifikaat ontvang en sal deelneem aan ’n loting vir opwindende pryse.

Om die promosie van amateurradio onder die jeug te vergemaklik en om praktiese deelname aan te moedig het die SARL se President Rassie Erasmus, ZS1YT, gesê dat alle stasies wat ongelisensieerde jeug onder 25 aan die naelloopkompetisie laat deelneem, as opvoedkundige stasies beskou sal word. Hierdie stasies moet egter die jeugdiges help om hulle logs vir die kompetisie in te stuur.

Indien u egter meer gereeld na die jeug wil uitreik is dit noodsaaklik om te registreer as ’n opvoedkundige stasie. Vorms is op die web beskikbaar en registrasie is vir een jaar geldig.

INTEGNET OP 22 JUNIE FOKUS OP SETI

Die volgende integnet vind op 22 Junie om 19:30 plaas. Die gasspreker is die President van die SETI-liga, Dr Paul Shuch. Hy sal die konsep "We know we are not alone" - the search for extraterrestrial intelligence" verken. Maak ’n nota van die datum 22 Junie om 19:30, jy wil dit nie misloop nie.

QSL-BURO BENODIG MEER VRYWILLIGERS

Ons was laasweek ernstig met ons oproep om vrywilligers om te help met die sortering en pos van QSL-kaarte. Bel Francois Botha op 012 679 5260 om u dienste aan te bied.

PORT ELIZABETH RTA WAS ’N TREFFER

Die SARL se Radiotegnologie-in-Aksie-Simposium wat verlede Saterdag in Port Elizabeth gehou was, het deelname deur ’n rekord aantal deelnemers ontlok. Meer as 70 radioamateurs en entoesiaste het die geleentheid bygewoon in die ouditorium van die Department van Elektriese Ingenieurswese van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit.

Die debat, gelei deur Vise-President, Dennis Green, ZS4BS, het entoesiastiese deelname van die bywoners gelok. Die oorwegende resultaat was dat meer boustelle benodig word om amateurradio prakties te bevorder en om jongmense te lok om iets elektronies te bou waarop hulle trots kan wees. Daar was ’n oproep gerig aan die die SARL vir ’n databasis van projekte wat vanaf klubs beskikbaar is en om klubs aan te moedig om projekte met ander klubs te deel.

Al die aanbiedinge was goed ontvang. Daar was veral belangstelling in die spreispektrumdemonstrasie en die aanbieding deur John Willescroft, ZS6EF. John het die vergadering vertel dat hy volgende jaar terug sal wees met ’n demonstrasie oor hoe om ’n spreispektrumsendontvanger te bou. Hy het gesê dat hy twee sendontvangers in die ouditorium sal hê om dooie werking en voordele van spreispektrum te demonstreer.

Die hoofbywoningsprys, ’n Yaesu handstel, geskenk deur HRO-SA is deur Henning Kriel, ZR2HRL, gewen.

KOMPETISIENUUS

SARL 80 METER QSO-GESELLIGHEID

Die uitslae van die eerste been gehou op Donderdag 3 April is bekend gemaak. Meer as 50 operateurs het deelgeneem, maar slegs 5 logs is ontvang. Die uitslae is as volg:

1ste Jan Botha, ZS4JAN, 680 punte;
2de Ruaan Schoeman, ZS6RMS, 530 punte;
3de Angeline v/d Merwe, ZU4AN, 470 punte;
3de Philip Esterhuizen, ZU4PE, 470 punte;
4de Oosrand ARK, ZS6ERB, 195 punte.

SARL 160 METER QSO-GESELLIGHEID

Hierdie is 'n aktiwiteit om kontakte op die 160 meterband tussen radioamateurs in Suider-Afrikaanse lande te bevorder en ook om radioamateurs aan te moedig om aansoek te doen vir die SARL se Topbandtoekenning. Die geselligheid vind plaas vanaf 18:00 SAT op Woensdag 18 Junie 2008 tot 06:00 SAT op Maandag 23 Junie 2008, met GG-werking tussen 1 810 en 1 838 kHz en foon werking tussen 1 842 en 1 850 kHz. 'n RS(T)-verslag en reeksnommer word uitgeruil.

Volledige besonderhede is beskikbaar in die SARL-kompetisieboek asook in hierdie week se HF Happenings 306. Logstate moet teen 8 Julie per e-pos versend word aan hfcontests@netactive.co.za of per gewone pos aan Die Kompetsiekomitee, Posbus 12104, Brandhof, 9324.

KLUBNUUS

Die Kempton Park Amateurradio Tegniese Vereniging (KARTS) gaan 'n klas A RAE-lesse aanbied vir die Oktobereksamen en benodig nog kandidate. Stuur asb u besonderhede aan die committee@karts.zar.cc.

SASOLBURG RADIOKLUB JEUGDAGAKTIWITEITE

Die Sasolburg Radioklub gaan op Maandag 16 Junie 'n praktiese amateurradiodemonstrasie by die Tharina-winkelsentrum in Vaalpark aanbied.

Hulle wag graag inroepe vanaf mede-amateurs in op die Sasolburg 145,600 MHz-herhaler, asook op 40 meter ESB en gelykgolf.

Hulle nooi elkeen uit om aan die beplande naelloop deel te neem - ondersteun hulle asseblief op die lug sowel as by hulle uitstalling.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees behalwe gedurende 15 tot 20 Junie wanneer onrustige vlakke verwag word. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die Noordelike rigtings maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noord-Westelike paaie.

20 m is die beste keuse vir DX met moontlike flou 20 m-openinge vanaf 15:00 SAT na Indie. Kontakte met Australië is moontlik gedurende agt tot tien gedurende die oggende. Vanaf ongeveer 17:00 is daar moontlike 20 m-openinge na Europa.

Kontakte met die VSA gaan baie uitdagend wees.

10 MHz lyk laatmiddag en na sonsonder bruikbaar vir die morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende die oggende en laat middag goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m behoort gedurende die middel van die dag baie bruikbaar oor die langer afstande te wees.

Saans is 80 m die beste keuse. Dit is nou as die donderstorms en staties vir jou 'n kans gaan gee. Nie te lank van nou af nie gaan 160 m weer baie bruikbaar wees.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan,luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

16 Junie - Jeugdagnaelloop;
18 tot 23 Junie - SARL Top Band QSO-geselligheid;
22 Junie – Integnet aangaande SETI.

SARL nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolf luisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Roger, ZR3RC, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003